Die Bergkwaggapark en die vaalribbok
\\\'n Rustende rooihartbees‘n Mens gaan Bergkwaggapark toe om bergkwaggas te sien. Dis mos hoe dit werk. Of behoort te werk.
‘n Mens gaan Bergkwaggapark toe om bergkwaggas te sien. Dis mos hoe dit werk. Of behoort te werk.
In ons geval, nou nie heeltemal nie. My man het daar ingery met die vaste hoop en onwrikbare geloof dat hy uitéindelik ‘n vaalribbok gaan sien.
Soos die Skarlaken Pimpernel ontwyk die vaalribbok hom nog sy lewe lank. Dit troos ook nie om te weet die bok is sku en rats, waaksaam, wakker en vlugvoetig nie en dat hy weg van paaie en oop vlaktes teen berghellings (nota bene, die noordoostelike glooiings!) voorkom nie. Geskrif op geskrif sê: ‘n Mens moet jou storie ken om ‘n vaalribbok te siene te kry. Die eggenoot het dus duidelik nog nie sy storie geken nie.
Maar van die vaalribbok het hy genoeg geweet om my in te lig waarvoor om te kyk: oorwegend grys, met rooierige bene en gladde reguit horings (amper soos die rooiribbok dus, net baie anders).
Dié keer, verseker hy my toe ons tydens een van vanjaar se vele langnaweke by die Bergkwaggapark uitkom, gaan hy een sien. Hy net daardie gevoelente.
Ons pak af by die ruskamp en kry sommer dadelik koers op die Rooiplaatkringpad (14’/2 km). Laat ek nou maar eerlik wees, soveel duttende diere byeen het ek in my dag des lewens nog nooit gesien nie. Ons ry twéé keer by dieselfde rustende rooihartbees verby, tussendeur ook by ’n slapende blesbok, sluimerende swartwildebeeste, indommelende bergkwaggas, en selfs by troppies springbokke verby wat danig deur die slaap gelyk het.
Op die plato kyk ons uit op ‘n landskap wat die woorde ‘dynserig’, en ‘verre einders’ soos uit ‘n vergete woordeboek oproep. Verste vertes, dampblou bergriwwe. Mooi.
Op pad terug na die ruskamp swaai ons weg op die Kranskoppad (26 kilometers) en nou voel ons die afwagting opbou. Gaan die vaalribbok uiteindelik hier wees, skigtig soos iets uit ‘n mite?
Daar is skeure en klowe en bome (aangrypend mooi, die bergkiepersolle tussen enorme rotsblokke)... en meteens, daar op die slingerpad teen die berg af, toe ek weer ‘n slag skuins kyk, toe sien ek die vaalribbokram, net so skrams, ‘n ent ondertoe maar die horings staan kenbaar spits, nie geboë soos dié van die rooiribbok nie. “Daar’s hy!” kry ek skaars uit voor hy, sku, vlugvoetige dier, weer verdwyn.
Sonder gefluit of gesnork of klippers wat spat. Sommer net stil-stil weg tussen die doringbosse en kareebome. Skoonveldweg.
Maar vir altyd sal die Bergkwaggapark die een wees waar ons nog die naaste aan die vaalribbok gekom het ...
Joan Kruger









Add Your Comment