Geveerde burgers se beroepsname

Van die vername sekretarisvoël tot die beskeie skaapwagter, baie voëls het hul name by beroepe en ander betrekkings geleen.
Dis die sekretarisvoël wat die ding beginne het. Op die grasvlakte voor die soveelste grasduin, net so anderkant Samevloeiing in die Kgalagadi, het ons hom gesien. Heen en weer in die hoë gras met sy koddige stywebeenstappie. Spits blik. Afkeurende snawel, "penne agter die ore styf", in die woorde van Leipoldt. Plegstatig in grys en swart, uitgeknip die burokraat van die Kompanjie; Sagittarius serpentarius, die enigste oorlewende lid van hierdie familie slangvangers. Die laaste waardige ampsbekleder uit 'n vervloë tyd, met verbeelde notuleboek onder die vlerk, en 'n afgemete agenda van klaarspeel met slang en rot en muis.
Die een wat hom sy naam gegee het, het fyn gekyk, sê ons vir mekaar en kyk om ons rond na ander voëls wat ook goewermentsname gekry het.
Die laksman is natuurlik heel bo aan die lys: roofsugtige haakpuntsnawelgevogelte wat sy prooi aan lang wit pendorings tot winddroog ophang. Die dood in karmosyn en swart by die rooiborslaksman (sien regs); by die ander laksmanne bedrieglik gewoon, soos die dood ook soms kan wees.
Sy ampsbroeder, die fiskaal of fiskaallaksman, genoem na die polisiehoof tydens die Kompanjiestyd aan die Kaap, is effens bedeesder van voorkoms, maar altyd op die jag uit.
Soos ook die waterfiskale van latere tye wat oor kanale en leibeurte gewaak en op die platteland gebruik is om kinders wat in kanale baljaar mee skrik te maak.
Die gee van beroepsname aan die geveerde burgers eindig nie met ampstitels nie. Vakmanne en arbeiders het ook hul ornitologiese teëhangers: die skoorsteenveërs, daardie spierwit ibisse met hul roetswart gepunte slagvere, die kunstige wewers, vlytige houtkappers, en benewens die bergwagters ook die skaapwagters, tot poësie omskep deur N.P. van Wyk Louw:
Die laat-middag het room geword
en treine wat ver fluit
en 'n wit-bont klaas-skáwagter
wat wag-hou op 'n kluit
Effens hoër op in in die sosiale hiërargie is die verfynder kunstenaarsvoëls, die hofsangers en bosmusikante, en dan kom 'n mens by die hoë kerkvoëls, die kardinaals, verteenwoordig deur kardinaalkwelea en die kardinaalspeg, albei nie op die kleurkaart presies die kardinaalskleur nie. Daar kom die bishops, in Afrikaans sommer doodgewoon vinke, kleurgewys digter by die ware Jakob.
Om die kroon op die voëlkoninkryk te span, is daar natuurlik ook 'n paar konings nodig, met min so mooi en waardig om die naam te dra as die koningrooibekkie en die koningblousysie.
Van skaapwagter tot koning, die voëls hét dit!
Comments
Posted on: October 16, 2012, 10:08 AM
Posted on: November 20, 2012, 4:45 AM
Posted on: November 21, 2012, 5:39 AM
Posted on: November 21, 2012, 5:51 AM









Add Your Comment