Vasgekeer deur buffels

‘n Swart muur van ten minste 1 200 buffels op die S36 en ‘n Serengeti-tipe sebra-optog op die S89 was hoogtepunte van 2012 se wintervakansie.
‘n Konsert van naggeluide soos nog nooit by Balule; die grootste trop buffels in my heugenis op die S36 en talryke luiperds rondom die Sabierivier. Dit sal ons altyd onthou van ons wintervakansie van 2012.
Die naggeluide by Balule aan die Olifantsrivier sou vreesaanjaend gewees het sonder die stewige heining. ‘n Spannetjie Tukkiemaats van die jare 1958 tot 1960 was saam in die kampie se ses rondaweltjies. Ons het ure lê en luister. By die oggend se roereier kon ons nie daaroor uitgepraat raak nie. Trouens, oor Balule kan geen mens uitgepraat raak nie. Ons klompie keer in Julie 2013 terug vir ‘n tweede porsie. Deposito vir die hele kamp is klaar betaal. Net jammer dis nie weer volmaan nie!
Op pad terug, ry ek en Tokkie ons toe vas in ‘n swart muur van buffelhorings en -rûe. Ons was ‘n halfuur vasgekeer in die Honda. Toe skrik ‘n klompie vir ‘n raserige voëltjie en gaan ‘n kanaal vlugtig oop. Die Sanparkemense meen die trop was dalk 1 200 groot. Vir my klink die skatting konserwatief.
Luiperds op die H11 Skukuza toe, die Doispanepad (S1), op die S3 langs die Sabierivier, by die piekniekplek en telkemale tussen die huise in Sabiepark self was ‘n oorheersende vakansie-ervaring. Een middag by die piekniekplek – nogal as ‘n 30ste verjaardag-“geskenk” vir my broerskind Marcus Malan – het ‘n wyfie met twee spelerige welpies rondgewals. Met ons laaste besoek aan die piekniekplek besorg die fris mannetjie ons toe ‘n toegif.
Maar as ‘n mens begin uitsonder, trap jy in ‘n gat. Wat dan van daardie reuse-sebra-optog op die S89 wat ‘n mens aan ‘n migrasie in Serengeti laat dink het? En die olifante? Die grootvoete het, soos altyd, langs die Sabierivier (ook langs die Timbavati) gewemel. By Balule het ‘n trop van 27 langs gekom. Oor die stringe bloukuifloeries het ek reeds geskryf.
Die Sunsetdam by Onder-Sabie het sy status as gunsteling-koffiedrinkplek herbevestig. Oor die koffie is 17 spesies wild en watervoëls getel. By Vurhami, naby Krokodilbrug, was ons verheug oor olifante, kameelperde, sebras, blouwildebeeste, rooibokke en nimmersatte wat mekaar by die water verdring.
Ook in Skukuza het die kwik hierdie winter laag geduik. Rekord-lesings van 0 grade het deurwinterde bosmense na jasse laat gryp. Maar op Vrydag 10 Augustus om 16:00 neem ek 'n foto by Sabiepark se swembad: vier jong meisies in hul bikini's. Die volgende dag klim ons op die vliegtuig Melkbos toe. Dit sous en dis bitterlik koud hier. Ai, hoe hard roep die bos nie nou nie!
Comments
Posted on: August 19, 2012, 8:51 AM
Posted on: September 22, 2012, 8:54 PM
Posted on: November 21, 2012, 5:13 AM







Add Your Comment