Mooiste loerie in die land

In Afrikaans gaan ons taamlik liberaal om met die adellike naam “Loerie”, maar nie almal het loeriebloed nie.
Deur Hennie van Deventer
Ek kan vinnig die volgende “loeries” op my vingers aftik: die bloukuifloerie, die Knysnaloerie, die bosloerie, die vleiloerie en die grys loerie – almal wat ek gereeld sien of al meermale gesien het.
In voëlboeke (soos Sasol s’n) lees ek van “loeries” soos die Schalow, die Livingstone en die Ross. In ‘n papegaaiboek vir kinders kom ek te wete van omtrent 25 soorte “loeries” (en 30 soorte “loerikette”) wat in die woude van die Oos-Indiese eilande, Australasië en die eilande van die suidelike Stille Oseaan hou.
Die kleurryke bosloerie (Engels: narina trogon) is ook ‘n besonderse en boonop uiters seldsame voël, maar verdien nie in bogenoemde geselskap vermelding nie. Die bosloerie het eenvoudig nie loeriebloed nie.
Die verskeidenheid vleiloeries is ook ‘n plesier vir die oog, maar, soos die trogon, is hulle nie werklik loeries nie. In Engels heet hulle “coucals”. Kenneth Newman koppel hulle aan die koekoek-familie.
Die grysloerie of kwêvoel … wel, dis ‘n anderster “loerie” daai. Lyk vir my baie soos muisvoëls op steroïde waar hulle langs die Wildtuin se paaie in veral doringbome sit en krys: “kay-waaay”. Daardie roep het vir die vaal voël die onvleiende naam “Go-away bird” verwerf.
Ek aanvaar die Knysnaloerie sal vele mense se kandidaat wees vir die titel “Mooiste loerie”. Hy’s ‘n waardige aanspraakmaker op die hoogste louere. Waar die groen voël met die wit kring om die oë sy verskyning waar ook al in die suid-Kaapse immergroen woude maak, bring hy genot. Een het in die Wildernis dae lank voor ons SANParke-rondawel sit en vytjies pik-pik. My kamera het nie ophou kliek nie.
My persoonlike keuse sal elke keer die bloukuifloerie wees. Op die oomblik is hierdie manjifieke voorbeelde van gevleuelde vorstelikheid juis uiters aktief by ons Sabieparkse watergat. Soos trosse skarlakenrooi blomme hang hulle in die bome by die watergat, wip-wip koggelend van tak tot tak of buig hul elegante nekke laag om dorstige kele te verfris.
In vlug is daardie vlerke asemrowend – veral in helder sonlig. Om drie of vier gelyk in die bome by die watergat te sien, is kosbaar. Nou die dag was hier sewe. Vyf het in ‘n ry gesit en water drink. Ek het nie woorde nie.
Comments
Posted on: August 10, 2012, 8:55 PM
Posted on: November 17, 2012, 8:36 AM
Posted on: November 17, 2012, 8:37 AM







Add Your Comment