LUIPERDSPOOR BY DIE BRAAI

July 10, 2012, 12:15 PMBy: |2 Comments | Tags: LUIPERDSPOOR BY DIE BRAAI, Sabiepark
Image courtesy of Tom Barry

Was dit ‘n leeu, ‘n hiëna of iets anders rondom die boshuise? Deur Hennie van Deventer


Tokkie is ‘n meisie vir spore en mis.

Van haar bosplesiere hier in Sabiepark is ontdekkingstogte saam met die kleinkinders. Te voet vat hulle elke dan en wan die spoor in Wildevy af piekniekplek se kant toe.

Spore word met skerp takkies omkring, bespreek en ontleed. Van die verskeidenheid kittels word monsters versamel. Dit word in deursigtige kokertjies na Oupa aangedra vir sy goedkeurende kommentaar.

In my oë (dalk bevooroordeeld) is my vrou ‘n kenner. Sy mis niks. Sedert daardie bewoë oggend van 24 Julie 1998 toe ons deur leeuspore op die hoek van Wildevy en Worsboom verras is, het sy haar in die onderwerp verdiep.

Sy is nie sommer een wat ‘n leeu-alarm sal maak op grond van ‘n bobbejaanmannetjie se spoor nie – soos een van die Sabieparkveterane ‘n keer tot sy diepe verleentheid.

Een spoor – eintlik twee - ontspoor haar egter gereeld. Wanneer is dit hiëna en wanneer luiperd? 

Op die Total-plakkaat op die stoep en in Clive Walker se uiters nuttige boekie ‘Signs of the Wild’ in ons boekrak is die verskille onmiskenbaar. Die luiperd se kussing is kleiner as dié van ‘n leeu en ronder as dié van ‘n hiëna. Die hiëna se spoor is breër en sy tone is langer en maerder.  Sy skerp kloue verraai hom dadelik.            

Goed, dis op prentjies. In sagte sand is identifisering soms uitdagender. 

By ons braaiplek bespeur Tokkie toe ‘n raaiselagtige spoor. Hiëna, dag sy eers.   Dié dierasies loop elke aand die wêreld vol op soek na iets te ase. Maar as ‘n hiëna daar in die as getrap het, hoe het hy daar gekom? Die enigste roete is verby die ketting, oor die stoep en dan by die trappe af. Bowendien, waar’s die kloutjies?

By die hek is in swierige sierskrif – die letterkuns van die nuwe hekwag, Calvin – ‘n kennisgewing: “Leopard activity in Sabiepark.” Skielik begin sy wonder.  Clive Walker word geraadpleeg. Die Totalplakkaat word fyn bestudeer.

Ongetwyfeld luiperd, is haar bevinding. Dié gevaarlike katte word deesdae onheilspellend dikwels hier tussen ons boshuise waargeneem.  Hierdie een is sweerlik oor die lapa se heining vir ‘n ondersoek ter plaatse by ons braaiplek. Hoop dié ou rondloper het sy tone verbrand!

Add Your Comment
 
Comments
 
shoana says:In sabiepark is dit nie snaaks nie...My Pa het 30 jaar gelede `n huis daar gebou in Sabiepark wat op die rivier uitgekyk het..die enigste huis wat toegelaat wqas met die voorkant in die wildtuin self met die bek en klouseer draad in middel van huis vas aan weerskante. Ons het baie leeus gesien en moes laat spaander op huis toe..en partykeer luiperde gesien..of aktiwiteit in oggende,waargeneem....selfs karkasse gekryin park self naby draad...hulle kan maklik deurkom as Sabie riveir effens droog of vlak is..net soos die buffels en olifante..en `n luiperd kom maklik oor die bek en kliuseerdraad...spring seker vanuit `n boom...`n buffel het hom baie keer tuishemaak onder `n boom twee meter van ons stoep en staan en kyk as ons jolig stoep sit en brug speel..daardie dae was daar ook twee "mak" jagluiperde wat in Sabiepark agter mens se kar huistoe aangehardloop het soos honde....en dan voor voordeur le en "waghou" het.....(In Ian Crabtrey se dae.....tot een van hulle eendag `n swartman/werker van fiets afgetrek het.....toe is hulle verwyder....maar eksem die adrenalien pomp hoog as mens in nag en oggendure al die geluide hoor om die huis en wonder wat loop rond,...en dan nie gou genoeg soggens kon uitkom om ondersoek in te stel nie......ek weet van `n luiperd wat by Mopanieeen van ons vriende se swart staalpan wat hul op braaier buite gelos het, gebyt het...die tandemerkesou hul dalk nie as leke self geeien het as hul nie geraas gehoor het in nag...en tope self die luiperd, waar hul flussies gebraai het, gesien het met die pan nie....hyt geskrik en laat spaander.. .GENIET dit...ek verlanbg na daardie dae....my pa het na my ma se afsterwe die irrassionele belsuit geneem om die huis wat hy vir ons gebou het en ek uitgerus het( verrassing vir my ma) verkoop het aan `n Privaat hospitaalspan....sulke RUS vakansies en rus sal ons seker nooit weer beleef.,..en dit was regtig die beste rus ooit.(daar was nie krag geinstalleer nie). ns het met lampe en vuur en gas...heerlike stiltes belewe en die donkerste donker nagte,
Posted on: July 16, 2012, 2:27 PM
 
Hennie van Deventer says:Shoana Oor daardie wonderlike, wilde begindae van Sabiepark het ek heelwat nagelees, en ook heelwat oorvertel in my Sabieparkboeke, Buurman van die Bos en Duisend Dae Langs die Sabie. Jou nostalgie is vir my volledig verstaanbaar. Ons is lief vir die bos en lief vir Sabiepark. Voel skoon melancholies dat ek Saterdag moes huis toe kom.
Posted on: August 13, 2012, 2:55 PM