Stormsrivier se staal foefieslaaids slaan jou asem weg

February 4, 2012, 11:30 AMBy: |1 Comments | Tags: Tsitsikamma Nasionale Park

Om oor die boomtoppe en oor die Kruisrivier te gly op ’n staal foefieslaaid, laat die adrenalien nog lank deur jou are bruis.

Deur Maryke Roberts


’n Pamflet wat die Tsitsikammawoude se avonture voor jou voete kom lê, val uit my boekrak toe ek iets anders soek en ons besluit daar en dan om op te pak, op die N2 te klim en Stormsrivier, duskant Plettenbergbaai, toe te ry. Ons wil die staal foefieslaaids oor die Kruisrivier en in die Tsitsikammawoude doen.

Die aand, by ons backpackers akkommodasie, verluister ons ons aan van die ander gaste wat nie uitgepraat kan raak oor hul ervarings nie. Drie Swede het pas die Otter staproete in die Tsitsikamma Nasionale Park voltooi en wys ons die blase op hul voete, maar die vonkel in hul oë vertel van nuwe horisonne.

Ons is vroegoggend reg vir ons uitstappie. As jy swanger is of meer as 120 kg weeg, kan jy nie die foefieslaaids gebruik nie. Net agt mense word per groep toegelaat. Met ons veiligheidspraatjie agter die rug, ons harnasse en valhelms aan, maak ons gereed vir die eerste van tien glye, tussen tien platforms. Jy gly bo-oor en tussen die reusagtige bome in die woud, sowat 30 meter bo die grond. Jy bepaal jou eie spoed, rem jouself met ’n spesiale handskoen. Om jou ontvou die woud haarself, hoor en sien jy Knysna loeries en ander voëls wat in die takke baljaar. By elke platform vertel die gids jou meer oor die boomspesies, oor natuurbewaring en die wonders van die woude.

Toe ons net meer as drie ure later kar toe stap, vertel een vrou dat sy die bosloerie (Narina Trogon) gesien het. Dié voël is maar menssku en dis raar dat jy hom sommer sien. Ons is so vol adrenalien oor ons avontuur, dat daar nie eers tyd is vir jaloers wees nie!

By Tsitsikamma Falls Adventures, 8 km verder, kan jy viertrek motorfietsry, oor die watervalle gly of abseil. Jy gly sewe keer oor die rivier, die langste een is 211 meter. Hier gebruik jy ’n rem om jou eie spoed te beheer. Die eerste twee keer is ek bang en gaan baie stadig, maar kry kans om rond te kyk, die wind in my gesig te voel, te hoor hoe die bruin rivierwater onder my kabbel. Teen die vyfde gly, is ek so bedrewe, dat ek al vinniger gaan, die gille eerder vreugdegilletjies word en ek baie lank vertoef tussen glye, om die mense wat agter ons is, gade te slaan.

Die nat weer maak die kabels glibberig en glad en jy gly ook lekker vinnig. Toe ons 1,5 uur later by die ontvangstoonbank aandoen om na die foto’s te kyk wat die ander gidse van ons geneem het, lag ons lekker oor die vrees op ons gesigte mettertyd in vrede verander!

Add Your Comment
 
Comments
 
Your Name Here says:Gerda Terblanche
Posted on: June 7, 2012, 9:30 PM