Vlerksleep: Dwergvalke se uitsonderlike broeigedrag
\'n Paar dwergvalkies. Fotografie deur Albie Venter.’n Groep fotograwe was getuies van ’n uitsonderlike paringsritueel by dwergvalkies in die Kgalagadi Oorgrenspark. Deur Albie Venter
A group of photographers in the Kgalagadi Transfrontier Park recently witnessed a rare mating ritual among pygmy falcons that confirmed polyandry as breeding behaviour among these birds. Albie Venter took pictures of this rare and fascinating encounter.
So ruk gelede het ek ’n klompie fotograwe na die Kgalagadi Oorgrenspark toe gevat vir die onvergelyklike fotomoontlikhede wat dit bied. Hoewel ons ’n groot verskeidenheid diere in fantastiese lig afgeneem het, was daar op die laaste dag nog niks onvergeetliks onder die magdom foto’s op my datakaart nie. (Ek moet darem toegee: my werk as gids op fotosafaris om die natuurskoon van ons vasteland vas te vang het my taamlik uitsoekerig gelaat.)
Maar, soos ek weer eens besef het, die Kalahari stel baie selde teleur. Dit was op ons laaste dag by die Rooiputs-kampeerterrein aan die Botswanakant van die Oorgrenspark dat ek ’n paar dwergvalke naby ’n groot versamelvoëlnes op die kampeerterrein opgemerk het.
Dit was laat Augustus en met die broeiseisoen net om die draai, was die valkpaartjie druk besig om mekaar die hof te maak. Ons nabyheid het hulle glad nie gesteur nie en het ons ’n uitsonderlike geleentheid gebied om die valke van naby te bekyk.
Die mannetjie het als uitgehaal om vir die wyfie te wys dat hy ’n goeie jagter is en kort-kort koggelmanders en ander reptiele as “trougeskenke” voor haar neergesit.
Die wyfie wat aan haar roesbruin rug uitgeken word, het gereeld in een van die versamelvoëlnessies ingegaan en daar sagte geluide gesit en maak. Die mannetjie het geduldig buite gewag. Na ’n paar minute sou sy uitvlieg na die mannetjie wat gretig met haar gepaar het. Hierdie gedrag is ’n paar keer in die loop van die dag herhaal. Op ’n tydstip het nog ’n mannetjie hom by die paartjie aangesluit. Die eerste mannetjie het hom probeer verwilder, maar tot my verbasing was dit die enigste teken van aggressie tussen die twee mannetjies in die tyd dat ons hulle dopgehou het.
Terwyl die wyfie weer ’n slag in die nes gesit en die mannetjie buite op haar gewag het, het die indringermannetjie hom weer eens by hulle aangesluit. Die eerste mannetjie het skaars ’n oog geknip en geduldig op die wyfie bly wag. Toe sy te voorskyn kom, het hy met haar gepaar – en toe ook met die “indringermannetjie”.
By navraag kom ek toe agter dat daar by soveel soos 18% van alle valke meer as twee volwassenes tydens die nesperiode teenwoordig is. Spottiswoode, et. al. het opgeteken dat twee volwasse dwergvalkmannetjies ’n nes van kos voorsien en daaruit afgelei dat hierdie voëlsoort miskien ook gemeenskaplike broeiers is – iets wat voorheen misgekyk is. (Poliandriese broeigedrag is waar meer as een mannetjie met dieselfde wyfie paar en verantwoordelik is vir ouerskap van die kuikens. Ander voëls met hierdie tipe broeigedrag is die grootlangtoon en goudsnip.
Wanneer julle weer in die middel van die dag in die Kalaharihitte sit en uitrus ná ’n oggendwildrit, gebruik gerus die tyd om hierdie voëls te bekyk. Daar kan ook ’n klein wonder op jul laaste dag in die Kalahari gebeur.
Dwergvalkie liefdesdriehoek
Portret van die mannetjie net voor hy vir die nag by die nes ingaan.

Die broeipaar. Die wyfie gaan by die nes in en maak daar sagte geluide, terwyl die mannetjie buite wag. Sodra sy uitkom, paar hulle.

’n Trougeskenk. Die koggelmander word aan die wyfie gegee om te dien as bewys dat die mannetjie ’n goeie voorsiener is.

Die wyfie verorber haar prooi in die koelte van ’n kameeldoringboom.

Die eerste paring waar ’n tweede mannetjie teenwoordig was. Die eerste mannetjie het skaars op die tweede een ag geslaan.

Oomblikke ná die eerste paring het die tweede mannetjie tot almal se verbasing ook met die wyfie gepaar.

Die wyfie in die nes waarvandaan sy fyn geluidjies gemaak het.

Foto's deur Albie Venter
Comments
Posted on: May 9, 2011, 6:44 PM
Posted on: May 16, 2011, 11:22 AM
Posted on: May 16, 2011, 11:28 AM
Posted on: May 16, 2011, 1:18 PM
Posted on: May 16, 2011, 3:52 PM
Posted on: May 16, 2011, 7:04 PM
Posted on: May 16, 2011, 8:39 PM
Posted on: May 16, 2011, 8:39 PM
Posted on: May 16, 2011, 8:39 PM
Posted on: May 17, 2011, 10:27 AM
Posted on: May 17, 2011, 1:03 PM
Posted on: May 17, 2011, 2:57 PM
Posted on: May 18, 2011, 2:11 PM
Posted on: May 27, 2011, 12:42 PM
Posted on: June 17, 2011, 5:41 PM
Posted on: February 9, 2012, 3:33 PM







Add Your Comment